Skoolwapen

Simbole Van Ons Erfenis

Ons skoolwapen weerspieël die kern van wat Futurum Akademie is. Die oop Bybel, die vloeiende rivier, die koringare – elke simbool is noukeurig gekies om ons visie van Christelike opvoeding, groei en uitnemendheid uit te beeld.

Wat ons skoolwapen simboliseer

Futurum – Latyns vir “Ons toekoms”

Want Ék weet watter gedagtes Ek aangaande julle koester, spreek die HERE, gedagtes van vrede en nie van onheil nie, om julle ’n hoopvolle toekoms te gee.” Jer. 29:11

Leerders word opgevoed en gelei in die waarheid dat ons, as kinders van God, hoop het vir die toekoms, wetende dat ons toekoms in Sy Hand lê en ons nie uitgelewer is aan omstandighede nie of mens gemaakte strukture nie. Verder word leerders geskool om self verantwoordelikheid vir hul toekoms te neem.

Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.” Joh. 14:6

Met die kruis in die middel erken ons Jesus Christus as die enigste weg tot saligheid.

Vanuit Sy oorwinning en op grond van die volle prys wat Hy betaal het, word leerders gelei om onbeskaamd en met vrymoedigheid in verhouding met God te leef en ‘n lewe van oorwinning te lei.

Die oop Bybel simboliseer onderrig gebaseer op die waarheid en waardes soos in die Woord vervat.

“En hy sal wees soos ’n boom wat geplant is by waterstrome, wat sy vrugte gee op sy tyd en waarvan die blare nie verwelk nie; en alles wat hy doen, voer hy voorspoedig uit.” Ps 1:3

Die pekanneut boom verteenwoordig die Vaalharts skema en herinner aan die trots op ons identiteit en herkoms. Dit dui op hoop en sluit aan by die leuse wat aanspoor om ‘n vrug van betekenis te dra.

Simbool van God Drie Eenheid – Vader, Seun en Heilige Gees. Ook in middel gesentreer as bevestiging van ons erkenning van God as middelpunt van ons bestaan.

Die drie sirkels dui verder op die holistiese ontwikkeling van elke kind wat geskoei word op balans tussen Akademie, Sport en Kultuur.

Krans van koringare. Dui op uitnemendheid, saad van die Woord en die strewe na ‘n ryk oes.

“Hy wat in My glo, soos die Skrif sê: strome van lewende water sal uit sy binneste vloei.” Joh 7:38

Die rivier is eie aan die Vaalharts skema en vanuit hierdie skema sal daar ook strome van lewende water en waarheid vloei.

Die aanslag van die skool is nie om kinders te druk tot hoër en hoër prestasies nie, maar eerder te fokus op ons eerste strewe en dit is ‘n liefdesverhouding met God. Leerders word onderrig om ‘n dieper betekenis in die lewe te vind, eerder as die gejaag na sogenaamde sukses. Ons weet ook dat sukses ‘n neweproduk is van ‘n vervulde mens met ‘n dieper betekenis.